Attie van den Bergh
Bedags
verkoop Attie van den Bergh onderdele vir groot masjiene, maar
saans dig hy notaboeke vol oor die alledaagse mooi dinge van die
lewe. Hy het binne ’n jaar onder die naam “BERG” meer as 1 000
gedigte op die kreatiewe webruimte woes.co.za gepubliseer.
In sy studeerkamer lig hy ’n almanak
met foto’s van grondverskuiwingsmasjiene op. Agterop het hy
sowat tien gedigte geskryf. “Ek het na die liggies in hierdie
gebou gekyk,” sê hy en beduie na ’n prent op die almanak. “Toe
dink ek elkeen van hulle is ’n mens.” Só het gedigte oor dié
“mense” se lief en leed ontstaan.
Van den Bergh sê visuele beelde
en musiek inspireer hom. In die loop van die dag maak hy notas –
of “embrio’s”, soos hy dit noem – om dit later tot verse te
verwerk. “My rekord was 28 gedigte op ’n aand. Die intik het die
langste gevat. Om dit te skryf was maklik.”
Volgens hom probeer hy glad nie
om hogere kuns te pleeg nie. “Ek skryf vir die mense.” Daarom
geniet hy die interaktiewe aard van ’n platform soos Woes, waar
lesers kommentaar op skrywers se werk lewer. “As ek duisend
gedigte skryf en een persoon vind baat daarby, dan is dit goed.”
Sy werk handel oor enigiets van
’n kollega in ’n mooi sonrok, die liefde en geloof tot ’n
rolprent. “Ek skryf oor dit wat mense ervaar,” sê Van den Bergh.
“Dit is nie geforseerd nie.” Sy digkuns is vir hom terapie, ’n
manier om te vergeet en te ontvlug van ’n besige werk-tempo. “’n
Mens skep jou eie wêreld,” sê hy. “Dit is bevredigend om ’n
gedig wat jy geskryf het weer te kan lees en geniet. Amper soos
om lekker kos te eet!”
Hoewel sy werk nog nie in ’n
gedrukte bundel verskyn het nie, is dit beslis iets wat hy in
die toekoms sal oorweeg, sê Van den Bergh.
Attie is Besturende Direkteur
van, onder andere, die maatskappy
Landboupart