|
Brekfis by tant Nellie
Dana Snyman - Mei 30 2008
Ek sit in tant Nellie se kroeg op
Ventersdorp, toe hou hier so ’n aamborstige, nerf-af Opel Kadett op
die sypaadjie stil. ’n Korterige mannetjie klim in die
wintersonnetjie uit. Hy het ’n pak klere aan – ’n ou, grys
strepiespak uit die 1980’s wat hopeloos te styf aan hom sit. Cream
hemp. Bont das.
Op sy
voorkop is ’n rooi letsel en om sy een hand is ’n verband gedraai.
In die ander hand hou hy so ’n lêer-besigheid.
Hy loer
by die deur in. “Is antie-hulle oop?” vra hy.
“Hoe
lyk dit vir jou?” antwoord tant Nellie op haar stoeltjie by die till
agter die toonbank. Uit haar asbakkie lek ’n Courtley Satin Leaf
Mild ’n strepie rook die lug in.
Die
mannetjie kom staan voor haar en daardie pak se baadjie wurg aan sy
voorarms en hy kyk na die ry bottels wat kop onderstebo van die rak
af hang, asof dit vriende van hom is wat hy jare laas gesien het.
Ek is
die enigste ander een in die kroeg. Ek drink ’n Coke en eet een van
tant Nellie se toasted egg, ham en cheese broodjies. Tant Nellie
maak die beste toasted broodjies in die land.
“Maak
dit maar ’n cane, antie,” sê die mannetjie. “ ’n Double cane. Met
water.”
“Ek’s
nie jou antie nie,” sê tant Nellie. “Oukei?”
“Sorry,
antie,” sê hy en sit die lêer en die Opel se sleutels op die
toonbank neer. Hy sukkel ’n pakkie Winston uit die baadjie se
binnesak en laat val dit langs die sleutels.
“Ys?”
vra tant Nellie en kyk na hom.
“Nee
dankie, antie. Seblief nie. Seblief nie.” Hy kyk na my. Die letsel
op sy voorkop is taamlik vars. Dit lyk of bloed enige oomblik
daaruit kan syfer. “Ys maak my tande seer,” sê hy, dan hys hy hom
tot op ’n kroegstoeltjie. Onder sy arms grynslag die pak se nate.
Hy het
lanklaas das gedra. ’n Mens kan dit sommer sien aan die losserige
manier waarop sy das geknoop is.
Tant
Nellie sit die glas cane en water voor hom neer. Hy vat een, twee
diep slukke, laat sak die glas, en kyk weer na my. “Dis mos waar dat
’n mens nie cane aan jou asem kan ruik nie, nè?”
“Ek
weet nie,” sê ek. “Dis waar, ja,” sê tant Nellie. “Jy ruik hom nie.”
Hy lig
die glas en sluk die res van die cane en water af, sit die glas neer
en blaai die lêer oop. Dit lyk of dit sy CV daar binne is, en nog
dokumente en briewe.
Ek en
tant Nellie hou hom stil dop terwyl hy lees-lees daardeur blaai.
Hy skud
later sy kop, mompel iets en stoot die leë glas oor die toonbank,
verby die Opel se sleutels en die pakkie Winston, in tant Nellie se
rigting. “Maybe moet antie maar vir my nog enetjie gooi,” sê hy.
Die
Beefeater-horlosie teen die muur bokant die rak sê dis net ná
halftien.
“Wil jy
nie iets eet nie?” vra tant Nellie. “Dis nog vroeg, man.”
Hy kyk
na tant Nellie, dan kyk hy na my, dan kyk hy na die leë glas in tant
Nellie se hand. “Nee thanks, dankie, antie. Gooi liewer maar vir my
nog enetjie.”
Hy kyk
weer na my. Dit lyk of die letsel op sy voorkop ál rooier word. “Ek
sweet mos verskriklik as ek eet,” sê hy.
Tant
Nellie sit die glas weer vol voor hom neer.
Hy neem
’n paar diep slukke.
“Kan ek
julle iets vra?” Hy kom van die stoeltjie af orent. “As ek vir julle
sê ek het oor ’n kruiwa geval, sal julle my glo?” Hy beduie met die
verbinde hand na die letsel op sy voorkop. “Lyk ek soos iemand wat
oor ’n kruiwa geval het? Hè?”
“ ’n
Mens sal
seker so kan sê,” sê tant Nellie.
Ek sê
eerder niks nie. In tant Nellie se kroeg sê ek so min moontlik.
Die
mannetjie kom staan weer by die toonbank. Hy mompel weer iets – iets
wat ons nie kan hoor nie, en vat weer na die glas. Tant Nellie
karring aan die radio op die rak. Freek Robinson praat oor RSG met
iemand oor die krisis in Suid-Afrikaanse netbal. Ons het onlangs glo
selfs teen Malawi verloor. Tant Nellie skakel dit weer af.
“Ek
moet nou waai,” sê die mannetjie en drink die laaste bietjie cane en
water. Hy sit die glas neer, druk die pakkie Winston in sy sak en
tel die lêer van die toonbank af op. “Ek gaan nou vir ’n job
interview .”
“Waar?”
vra tant Nellie.
“By die
stadsraad, antie. Hulle’t ’n pos vir ’n speedcop oop.” Hy wys met
die verbinde hand na die lêer onder sy arm. “Hier’s my pampiere.
Hier’s als.”
Die
Beefeater-horlosie teen muur sê dis op die kop elf minute voor tien.
Die
mannetjie stap na die deur toe, en by die deur gaan staan hy. Hy kyk
na ons en wieg effens op sy voete.
“Ek weet genuine nie eens hoekom gaan ek vir die interview nie,” sê
hy, “want hulle gaan anyway weer die job vir ’n swarte gee.”
|

If you need an extra income, I personally
recommend "Be Motivated Today".
It is really working for me! - Johan Blignaut
|
|