|
Brood en sous
Dana Snyman -
Mei 09 2008
Dindsagmiddag ry ek
deur ’n dorp in die Karoo, verby die kafee, die kerk en ’n vaal
klompie geboue. Dan vang my oog dit: Langs ’n huis op die rand van
die dorp staan ’n GMC-bakkie geparkeer – so ’n bleek bloue. Nes die
een wat oorle’ Oupa gehad het.
Ek hou sommer so in
die straat stil. Ek het mos ’n ding oor sulke bakkies en karre uit
’n vroeër tyd, ’n tyd toe ek nog iets van my onskuld oorgehad het.
Eers toe sien ek die oom op die huis se stoep. Hy moes my gewaar het,
want hy kom by die stoeptrappies af, krom agter sy skaduwee aan stap
hy, met ’n tiervellose tiervelhoed op die kop.
Ek
parkeer en klim uit die kar. Dis net ná halfeen die middag en ’n
koel windjie jaag stoffies uit die grond op.
Strauss, stel die oom homself oor die skewe tuinhekkie voor. Andries
Strauss.
Ek
vertel hom van oorle’ Oupa se GMC. Hy glimlag met ’n gesig vol
plooie en swaai die hekkie oop. Ek kan maar kom kyk.
Dit
kon net sowel oorle’ Oupa en oorle’ Ouma se werf gewees het. In die
bedding voor die Sunbeam-rooi stoep groei krismisrose en kannas, en
op die stoep se muurtjie pryk ’n ry varings in verfblikke. Die
draadmatjie voor die voordeur lê op ’n dubbelgevoude streepsak. Die
skoorsteen is swartgebrand. Die geute dop af en onder die kraan
langs die huis drup water in ’n oopgesnyde Mobil-oliedrommetjie.
Iewers agter die huis kraai ’n hoender, en ’n swart hond met wit
pote kom aangedraf. Pootjies.
Oom
Andries se GMC het 93 789 myl op die klok gehad toe die klok loop
staan het, jare gelede. Die enjin is al drie keer oorgedoen,
verduidelik hy, maar met die bakwerk skort nie veel nie, behalwe vir
die duik in die modderskerm waar hy een nag ’n donkie getref het wat
glo naby Middelpos in die pad gestaan en slaap het.
Ons
staan nog so daar by die bakkie, toe kom ’n tante met ’n bont
voorskoot en pantoffels om die hoek van die huis. Dis tant Johanna,
oom Andries se vrou. Jy moet kom eet, ou man, sê sy. Toe sy my
gewaar, vat haar hand na haar mond, en val sy haarself in die rede:
’Skuus, kind. Ek’t jou nie gesien nie.
Oom
Andries kyk eers na tant Johanna, dan kyk hy na my: Wil ek nie saam
met hulle eet nie? Die kafee en winkel hier op die dorp is etenstyd
gesluit
Die
ou kossie is maar eenvoudig, sê tant Johanna.
Oorle’ Ouma het ook altyd so verskoning vir haar kos gevra.
Ek
stap agter tant Johanna by die voordeur in; oom Andries en Pootjies
kom agterna.
Die
huis is klein en donker: Daar is ’n sitkamer, ’n korterige gang,
twee slaapkamers, ’n badkamer en ’n kombuis waaruit die woordlose
reuk van boerekos kom.
In
die sitkamer talm ek ’n rukkie.
Baie dinge wat ek sien, het ek gedink ek het al van vergeet: Die
bal-en-klou-bank en stoele, die gehekelde lappie op die koffietafel,
met die blaarvormige porseleinbak daarop, vol plastiekvrugte.
Die
mostertkleurige mat op die vloer en die delicious monster in die
bruin pot in die hoek. Teen die muur hang geraamde foto’s van
kinders en kleinkinders.
Tussen die gang en die kombuis is ’n houtdrumpel – ’n holgetrapte
houtdrumpel. Die draadlosie met ’n draadhanger vir ’n antenna op die
yskas is ingeskakel op RSG. Iemand lees ’n markverslag.
Oom
Andries skakel dit af en beduie na een van die stoele by die tafel
met die formica-blad. Maar ek gaan sit nie, ek gaan staan op die
deurgeskilferde linoleum voor die koolstoof en maak my hande warm.
Op
die stoof is ’n ingeduikte Hart-ketel in gesprek met ’n kastrol met
’n garetolletjie vir ’n handvatsel op die deksel. Dit fluit en sis
en blaas stoom die lug in.
’n
Houtlepel hang aan dieselfde spyker as die kerkalmanak, en op die
vensterbank, langs ’n blikkie 3-in-1-olie, lê ’n slypsteen.
Die
ou kossies is maar eenvoudig, sê tant Johanna weer, en begin die
langwerpige enemmelkommetjies vol te skep met rys, lekker klam,
klouerige rys. En soetpatats. En groenboontjies, met aartappels en
uie en ’n peperigheidjie daarby.
Die
skaapvleisbredie kom sommer kastrol en al tafel toe.
Kom’s dank, sê oom Andries, haal die tiervellose tiervelhoed van die
kop af en laat val dit langs hom op die vloer.
Nou
sit daar net sulke riffels op sy voorkop, terwyl hy bid: Segen Heer
wat ons vandag hier in liefde van U ontvang om te eet. Wees ons
genadig met U oordeel en meet ons nie met die snoere waarmee ons
mekaar meet nie. Amen.
Ons
eet. Ons eet lekker, terwyl Pootjies by die stoof lê en slaap.
Poeding is daar nie, maar toe ons klaar is, vra oom Andries of tant
Johanna darem nie vir ons ’n broodjie kan bring nie.
Tant Johanna bring breë snye tuisgebakte brood op ’n broodplank. Dis
’n sonde om sous te mors, sê oom Andries, en hou die plank nader.
Kry.
Ons
lê die brood op ons borde neer en skep die bredie se laaste sousies
met ’n lepel daaroor.
Ek
kyk na oom Andries en sien vir oorle’ Oupa, en Pa, en al my ooms wat
so sit en brood en sous eet het ná ete.
Dis
al ná twee toe ek tant Johanna groet en bedank. Oom Andries sit die
hoed tiervelloos terug op die kop en stap saam buite toe.
“Jy weet,” sê hy
voor ons groet. “Hier was in ’94 laas ’n witman in hierdie huis. Hy
was van die NP gewees.”
|