|
‘Heer, help by die VVO en gee ’n
Datsuntjie’
Dana Snyman -
Mar 23 2008
Woensdagaande was biduuraand in die klipkerk op ons dorp.
Dit
het 19:00 begin, en dit was altyd min of meer dieselfde klompie wat
daar was: Oom Andries en tant Sannie, oom De Wet en tant Rina, tant
Hester, oom Hansie, en die weduwees: tant Berdina, tant Sus, tant
Baby; en nog ’n paar ander.
Die
bidure is maar skraps bygewoon, en miskien was dit maar goed so,
want die Here, dink ek in alle opregtheid, het klaar Sy hande vol
gehad met al die klagtes, smekinge, versugtings, versoeke,
aanwysings, aanbevelings, en goeie, menslike raad wat Hy elke
Woensdagaand van ons dorp af ontvang het.
Oom
Andries het tot week ná week vir Hom gevra om tog namens Suid-Afrika
by die destydse Verenigde Volke-organisasie – die VVO – in te gryp:
“O, dierbare, almagtige Vader, ontferm U tog oor die manne en vroue
wat Suid-Afrika se saak in die VVO se raadsale daar in die vreemde
stel.
“Laat U nabyheid daar geld en gee hulle die krag dat hulle soos ’n
Daniël in die leeukuil ons vyande kan oorwin.”
Ek
sal jok as ek sê ek is vrywillig saam met my pa en ma na daardie
bidure toe.
Hoe
het die grootmense destyds gesê? Kinders word gesien en nie gehoor
nie.
Wel, ek is elke Woensdagaand gesien waar ek agter my ma die kerk
instap, met my Bybel – een van daardie met die ritssluiters – in die
hand. Ons het altyd op dieselfde plek gesit: Die agtste ry van voor
af, in die middelblok.
Almal het altyd op dieselfde plek in die kerk gesit.
Op
oom Andries en tant Sannie se plek in die derde ry van voor het
permanent twee bont kussings gelê. Dowe oom Bontjors se kussing het
op die heel voorste bank gewag, op die punt, by die gehoorapparaat
wat soos ’n telefoon daar gehang het.
Oom
Hansie, weer, het sy kussing saamgebring, so ’n plat groene, met ’n
Springbok-wapen op, wat al dofgesit was, want hy het die kussing ook
saamgeneem wanneer hy rugby op die De Beers-stadion in Kimberley
gaan kyk.
Ek
wonder steeds hoekom het my ma en die ander tantes pepermente of
sen-sen’s gesuig voor die biduur begin.
Hulle het dit andersins nooit gedoen nie.
Wou
hullle seker maak hul asem ruik lekker wanneer hulle met hul Maker
praat?
Dominee het op biduuraande nie op die preekstoel geklim nie. Hy het
ook nie ’n toga gedra nie. Hy het ’n kort boodskap van die kateder
voor die preekstoel gebring, dan het hy gesê: “Ons gee nou
geleentheid vir gebed.”
Dan
het die uur van bid begin.
Oom
Andries, die hoofouderling, het altyd eerste orent gekom op sy
Clarke-skoene: “Almagtige God en hemelse Vader, ons staan vanaand
hier voor U . . .”
Oom
Andries het namens almal gou vir die Here ’n kort opsomming gegee
wat die afgelope week op die dorp gebeur het: Die reënval-situasie,
wie siek is en wie nie meer siek is nie, hoe die bouwerk aan die
nuwe pad vorder, “en Here, die perskes en die appelkose kom ook nou
mooi aan, wees U die sonlig wat op hulle skyn”.
Ná
oom Andries het oom Hansie gewoonlik opgestaan, terwyl almal met
geboë hoofde gesit het. Buite die kerk het miskien ’n uil geroep of
’n hond geblaf of ’n Ford Anglia weggetrek voor oom Uys se hotel.
Oom
Hansie het met die Liewenheer gesels asof die Liewenheer sommer hier
naby op Kuruman gewoon het:
“Liewenheer, ek sê vanmôre vir my vrou Martie. Ek sê vir haar:
‘Mamma, ons moet vir die Here vra’ – ons moet vir U vra om ons tog
te help om ’n nuwe bakkietjie in die hande te kry.
“Die Vader weet, liewe Heer, daai ou Datsuntjie van my is nou gedaan
van die grondpaaie hier by ons . . .”
In
die rugbyseisoen het oom Hansie ook graag “vir ons rugbyspelers”
gebid – veral vir die Griekwa-rugbyspan.
Ons
span.
Daarom was dit nie vir ons so ’n groot verrassing toe Griekwas die
Blou Bulle teen alle verwagtinge in geklop het in 1970 se
Curriebeker-eindstryd nie, want ons was die Woensdagaand voor die
wedstryd in die biduur.
Ons
het oom Hansie hoor pleit.
En
dan, ná oom Hansie, het oom De Wet regop gekom. Dit was asof oom De
Wet in sy gebede vir oom Andries-hulle wou herinner aan die Gans
Andere, want oom De Wet het gekonsentreer op die nietigheid van ons
hier op ons dorpie: “Wat is die mens dat U aan hom dink, o, Heer?
Hoe ondeurgrondelik U weë, hoe onnaspeurlik U dade . . .”
Dan, terwyl oom De Wet nog aan die gang kom, het dowe oom Bontjors
doof opgestaan, met sy bulderstem, salig onbewus van oom De Wet:
“Ure, dae, maande, jare, U is in beheer van alles, o, Heer . . .”
Vir
’n rukkie het oom Bontjors en oom De Wet dan in duet gebid, totdat
oom De Wet later maar stilgebly en weer gaan sit het.
Die
weduwees het nie gebid nie, nie hardop nie. Tant Hester het wel
gebid, sittend: “U is die pottebakker, o, Heer, ek is die klei. Vorm
my en maak my . . .”
Hulle het vir baie dinge gebid, hierdie ooms en tantes: Die VVO, die
manne op die grens, die manne en vroue in die staatsdiens, die
sendelinge in kommunistiese lande, en in Japan en Malawi. Hulle het
selfs vir ons vyande gebid – en vir Charles Jacobie wat die volgende
week op ons dorp sou optree.
Nederig en opreg het hulle gebid, terwyl die swaeltjies in hul neste
onder die kerkgebou se balke slaap, terwyl die vlermuise in kringe
in die donker vlieg, en die wind deur die peperbome fluit, en die
rook laag oor die township op die dorp se rant hang.
Ek
dink soms aan daardie Woensdagaande. Ek dink aan daardie aande.
|