|
Hondeskool
Dana
Snyman - April
21 2008
Ek
het niemand van daardie konstabel vertel nie. Tot vandag toe nie.
Dit was die jaar toe die polisie se hondeskool se vertoonspan by die
landbouskou op ons dorp kom optree het.
Die
hondeskool se vertoonspan het eens op ’n tyd mos die land so vol
gereis en op skoue, Dingaansfeeste, Republiekfeeste, selfs op
skoolkermisse opgetree. Byna soos ’n reisende toneelgeselskap. Hulle
het die Saterdagmiddag in ’n geel SAP-bus in ’n stofwolk uit
Kimberley se koers op ons dorp aangeskommel gekom, met ’n sleepwa
agteraan, vol blaffende polisiehonde. Alsatians.
Die
hondevertoning was die hoogtepunt van die skou.
“Kom geniet ons vierbeenpolisie se verbluffende toertjies,” het die
plakkaat gelui wat vooraf by oom Mike se kafee en ’n paar ander
besighede opgeplak is.
Ek
sien nog die geel bus by die skouterrein se hek inwieg en hoe almal
na die rugbyveld, wat deel van die skouterrein was, skarrel waar die
vertoning sou plaasvind.
Die
skouterrein was nie groot nie. In een hoek was die perde, beeste,
varke, en skape se krale; en in die ander hoek die skousaal waarin
die vroue se grootkoeke, kleinkoekies, beskuit, ingelegde vrugte,
hekelwerk, breiwerk en ander goed beoordeel is.
En
agter die saal was die rugbyveld, en ’n pawiljoen langs dit, waarop
in groot, groen letters gestaan het: Die Ossie van der
Poel-pawiljoen.
Die
Ossie van der Poel-pawiljoen was bietjie van ’n hoenderstellasie,
maar toe die hondeskool se bus op die rugbyveld stilhou, het ’n stuk
of 500 mense hom volgesit. Selfs tant blinde Mollie was daar, met
haar skipper-hondjie, Brakkies, op haar skoot.
Ander het op kampstoele weerskante van die pawiljoen gesit.
Oom
Ossie, na wie die pawiljoen vernoem is, het met gevoude arms teen ’n
sitkierie geleun, in wit skoene en ’n wit safaripak, met ’n
Rapportryers-wapentjie wat neffens ’n rooi angelier in sy lapel
blink.
Oom
Ossie was ’n Brahman-boer en ’n belangrike man op die dorp.
Dinge raak vaag in my kop wanneer ek aan daardie middag dink. Almal
was stil toe die hondehanteerders uit die bus klim en hulle vir die
vertoning begin voorberei.
Elke hanteerder – daar was so vier of vyf – het sy hond uit die
sleepwa laat kom, terwyl ander helpers sulke staanders, met ’n leer
tussenin, op die veld staangemaak het.
Of,
nee, dit was nie so stil terwyl die vertoonspan reggemaak het vir
die vertoning nie. Van die straat se kant af, van agter die heining
agter die rugbypale, het die geluid van stemme wat lag en gesels
gekom – die stemme van die dorp se swart en bruin bevolking, wat die
verrigtinge van daar af dopgehou het.
Hulle is nie op die skouterrein toegelaat nie. Dit was in 1971.
In
’71 is selfs ’n vertoning van die hondeskool se vertoonspan met
gebed geopen. Die bevelvoerder het by die mikrofoon voor die Ossie
van der Poel-pawiljoen gaan staan, sy pet afgehaal, en gebid.
Ek
kan nie veel van die gebed onthou nie, want tydens die gebed het
Brakkies van tant Mollie se skoot gewip en kêf-kêf-kêffend op die
polisiehonde afgestorm, met ’n nat strepie agterna. Brakkies kon
dalk ’n southappie vir ’n polisiehond gewees het as een van die
groot seuns hom nie gillend agternagesit – “Brakkies, kom!
Brak-kies!” – en gegryp het nie.
Die
bevelvoerder het ná die gebed ongesteurd die hanteerders en hul
honde aan ons voorgestel: “Sersant Blackie Swart en Rex; AO Swannie
Swanepoel en Caesar . . .”
Dis
vreemd, dit was die bloeityd van Afrikaner-nasionalisme, tog het die
honde die name van Romeinse keisers eerder as Boeregeneraals gehad.
En
toe het die vertoning begin. Die hanteerders het die honde oor lere
laat trippel en deur brandende hoepels laat spring; en ná elke
toertjie is hulle luid toegejuig van die Ossie van der
Poel-pawiljoen af.
Ons
was nie gewoond aan sulke gehoorsame honde nie. Die meeste honde op
ons dorp het min of meer net twee bevele geken: “Kom hier, oubaas se
honne.” Of: “Voessek!” (Party kon darem ’n stok of ’n been gaan
optel as jy dit vir hulle gooi.)
Toe
die hanteerders die honde beveel om op die grond te gaan lê en te
maak of hulle dood is, het baie mense op die Ossie van der
Poel-pawiljoen gefluister: “Ag, sjym.”
Ek
kan nie aan nog snaakse dinge dink om oor daardie middag te vertel
nie. Ek kan nie meer stilbly oor die konstabel nie.
Miskien was hy nie eens ’n konstabel nie. Miskien het hy ’n ander
rang of titel gehad. Hy was jongerig en het die hele tyd terwyl die
vertoning aan die gang was, in ’n blou oorpak op die gras langs die
bus gesit.
Eers heel aan die einde van die vertoning het die bevelvoerder hom
nader geroep. Hy moes die rol van die dief vertolk.
Hulle het vir hom so ’n opgestopte skermding gegee wat hy oor sy arm
getrek het, en toe, nadat die bevelvoerder die bevel gegee het, moes
hy oor die rugbyveld hardloop. Hy moes net hol en hol, op sy
vinnigste hol. En toe het een van die hanteerders ’n hond losgelaat,
en gesê: “Sa!”
Hy
het gehol en gehol, nes hy op hoeveel plekke tydens hoeveel
vertonings al gehol het; en die hond het gekom en nader gekom, en hy
het die opgestopte arm na die hond uitgehou, hy wou keer, hy wou
keer, en die hond het dit gegryp en dit het geklink of hy skreeu en
die hond het hom omgepluk.
Hy
het geval en dit het gelyk of hy op die gras hop. Hy het weer regop
gekom, maar die hond was te sterk. Die hond het hom weer omgeruk en
heen en weer gepluk, heen en weer gepluk, terwyl dit op die Ossie
van der Poel-pawiljoen lag en jil en fluit en hande klap.
Agter die rugbypale, agter die heining, was dit doodstil. Dit was
die einde van die vertoning. Ons kinders het op die veld gedraf om
die honde te gaan vryf en na die hoepels en lere van naby te kyk.
Ek
weet nie hoekom het ek agter die bus gaan inloer nie. Hy het op sy
rug daar gelê, met daardie skermding steeds aan sy arm.
Huil is so ’n moeë, simpel woord. Mense in flieks huil. Politici
huil voor TV-kameras.
Die woord huil is
nie waardig en verdrietig genoeg om te beskryf wat ek daardie dag
daar agter die bus gesien het nie.
|