|
Kuiertjie in Kraaifontein
Dana Snyman -
Maart 10 2008
Sondagmiddag, op pad terug van die binneland
af Kaap toe, hou ek gou by Japie in Kraaifontein stil. En toe is sy
ma, tant Tillie, ook daar. Uit die ouetehuis uit.
“Byt net vas, mater,” sê Japie. “Ek maak nou vir ons koffie. Ons wil
net gou met Kallie-hulle in Kanada praat. Hulle wag.” Sommer net so.
Asof Toronto net anderkant Klapmuts lê.
Dis
deesdae mos maklik om in Kraaifontein of waar ook al te sit en oor
die rekenaar met jou familie oorsee te gesels – en hulle nog te sien
ook, terwyl jy gesels.
Jy
– en hulle – moet net ’n Skype-program op die rekenaar hê, gekoppel
aan ’n mikrofoon en ’n kameratjie. Nes Japie het.
“Mammie, kom sit Mammie hier.” Japie het na die twee regop stoele
beduie wat hy voor die rekenaar in die hoek van die woonkamer
reggesit het.
Tant Tillie is al by die tagtig, ’n krom
tannietjie met ’n kierie, Green Cross-sandale by haar sykouse en ’n
wiegende naaldwerksak oor haar elmboog.
Tant Tillie is een van daardie tantes wat al
’n leeftyd lank probeer om die wêreld se swaar en hartseer weg te
hekel en te brei en te borduur.
Dit
het Japie ’n rukkie geneem om aan haar te verduidelik waar sy moet
kyk, waar sy moet praat, en, ja, Mammie, Kallie-hulle gaan Mammie
regtig daar in Kanada op hul rekenaar sien hier waar Mammie in
Kraaifontein met hulle sit en praat.
Als
is so onwerklik omdat die werklikheid so onwerklik is.
Japie het oor die rekenaar gebuk en die toetse gedruk; en tant
Tillie het ’n pakkie sen-sen uit haar naaldwerksak gehaal, enetjie
uitgeskud en in haar mond gesit; en die rekenaar se modum het
gesuis, gekrap en gefluit.
Toe, opeens, verskyn ’n man, ’n vrou en ’n swartkopseuntjie op die
skerm. Kallie, Linda en hul vierjarige seuntjie, Brett.
Hulle sit op ’n bank en agter hulle teen die muur is ’n abstrakte
skildery, in pastelkleure; en langs dit, langs die skildery, hang ’n
gehekelde Onse Vader in blokvorm – een van die Onse Vaders wat tant
Tillie so graag hekel, in stysel styf en laat raam.
Dan
kom Kallie se stem helder oor die rekenaar se luidspreker: “Hallo,
Mammie. Hallo, broer. Hoe gaan dit daar by julle?”
“Hallo, julle,” volg Linda.
Die
kind sit tussen hulle en suig aan sy vingers.
Hulle het drie jaar gelede Kanada toe geëmigreer en was sedertdien
nog net een keer weer in Suid-Afrika. Twee Kersfeeste gelede.
“Hallo, julle,” praat Japie reguit na die mikrofoon langs die
rekenaar toe. “Dit gaan goed, dankie. En daar by julle?” Hy leun oor
na tant Tillie wat regop langs hom op die stoel sit, met haar
kierietjie tussen haar knieë. “Kan Mammie hoor?”
Tant Tillie knik. “Hallo, kinders,” sê sy sag met haar oë stip op
die rekenaar se skerm.
“Hallo, Mammie,” kom Kallie se stem weer. “Mammie lyk goed. Hoe gaan
dit met Mammie?”
“Dit gaan goed, dankie, kind. Jou ma se bene lol ’n bietjie, maar
die ou bors is darem nou beter.” Tant Tillie trek ’n sakdoekie uit
haar rok se mou.
Japie leun weer na haar toe. “Mammie moet bietjie harder praat,
hoor.” Hy wys na die mikrofoon. “Praat hier – hiér.”
“Ek
sê die ou bors is darem nou beter, kind.” Tant Tillie praat nou
aansienlik harder. “Die pille wat dokter Heinrich voorgeskryf het,
werk darem. Het julle die pakkie gekry wat ek gestuur het?”
“Ons het gekry, dankie Ma.”
“Pas daai toppie wat ek gehekel het darem?”
“Hy
pas, Ma.”
“En
die ander goed?”
Linda beduie na die Onse Vader agter hulle teen die muur. “Ma sien
mos. Dankie. Dis pragtig.”
“Dankie, Mammie,” voeg Kallie by.
Die
kind se vingers is steeds in sy mond.
’n
Paar oomblikke staar tant Tillie en Japie na die skerm waarop Kallie
en Linda na hulle staar. Dis asof iets in hulle probeer begryp dat
dit digitale en elektroniese impulse eerder as die bloed in hul are
is wat hulle deesdae verbind.
Tant Tillie lig haar kierietjie. “Hoe gaan dit
met hom?” Sy reik vorentoe en druk byna met die kierie op die kind
se gesig op die skerm. “Hoe gaan dit met jou, hê, Ouma se grootseun?
Vertel vir Ouma. Toe, vertel vir Ouma.”
“Dit gaan goed met hom, Ma. Net bederf.” Linda trek sy vingers uit
sy mond uit. “Say hi to Ouma. Come, say hi to Ouma. Come. Say: Hi,
Ouma.”
“Hi, Ouma.”
Tant Tillie buk af en haal ’n nuwe blou trui
uit haar sak. “Looked what your Ouma . . .” Tant Tillie soek na die
woord: “. . . your Ouma brei-ed for you.” Sy hou die trui oop voor
die skerm. “I brei-ed this for you. Nice for the cold, hey?”
“My
Daddy is going to take me to Disneyland in July,” sê die kind. “And
he is going to buy me a PlayStation.”
Dit
was net na halfvyf, Suid-Afrikaanse tyd. In Kanada was dit oggend of
aand of ek weet nie wat nie. Die rekenaar het gesuis en iewers het
honde geblaf.
Tant Tillie het nie juis verder gepraat nie.
Sy het haar sakdoekie se een punt om haar wysvinger gedraai, styf
het sy dit om die vinger gedraai, terwyl sy na haar oudste kind, sy
vrou en hul seun, haar kleinkind, op die skerm kyk.
Japie het ook nie juis veel meer gesê nie.
Linda wou by hom weet of Zuma beslis die nuwe president gaan word en
of hy nie by Wetherleys kan gaan hoor of hulle hul meubels uitvoer
Kanada toe nie. Sy wil ’n Wetherleys-sitkamerstel hê.
Kallie, weer, wou weet hoe vaar die Blou Bulle in die Super14 en toe
het almal mekaar gegroet, terwyl tant Tillie die sakdoekie van haar
vinger losdraai en op haar skoot platstryk.
Linda moes haar
misgis het, want nog voor Kallie sy rekenaar kon afskakel, het sy om
die bank gestap, om hul bank in Toronto, Kanada, gestap, en die
“Onse Vader” langs die skildery van die muur gehaal, terwyl ons in
Kraaifontein vir haar sit en kyk.
|