|
Die liniaaltoets
Dana Snyman -
Feb 29 2008
Ek
is dankbaar om te kan sê ek is nooit as kind gemolesteer of
mishandel nie. Die Skoolsuster het my wel een keer ondersoek.
Hoe
oud was ek? Dertien? Veertien?
Ek
was in st. 6, en ons is nie op haar koms voorberei nie. Piet Kopbeen,
ons hoof, het een oggend net in die saal aangekondig: “Die
Skoolsuster is vandag hier om die standerd sesse te ondersoek, mense.
Gee tog jul samewerking.”
Wat
haar naam en van was, weet ek nie. Ek glo nie eens Piet Kopbeen het
geweet nie, want hy het ook maar van haar as Die Skoolsuster
gepraat.
Ek
onthou te min van daardie dag.
Die
Skoolsuster het met ’n wit Chev Firenza met ’n GG-registrasienommer
gery, want toe ons uit die saal kom, het dit tussen die onderwysers
se karre in die koelte naby die fietsloods geparkeer gestaan.
Sy
was toe reeds in die tydelike spreekkamer wat ou Kopbeen-hulle vir
haar in die boekstoortjie oorkant die kamerverlate ingerig het. Dít
onthou ek.
Ek
onthou ook stemme – die stemme van die groter seuns wat vir ons
vertel wat Die Skoolsuster als met ons gaan doen: Sy druk ’n breipen
by jou oor in om te toets of als reg daar binne is, amper soos jou
ma met ’n koek maak. Sy spuit jou vir polio in, met ’n naald so dik
soos jou middelvinger. Sy was jou met DDT as sy weeluise op jou kry.
En
as Die Skoolsuster agterkom jy drink Bob Martin-hondetablette – iets
wat baie van ons gedoen het – om jou hare blink en gesond te laat
lyk, stuur sy jou na Kopbeen vir ses van die bestes.
Ek
onthou die vrees.
Die
prosedure was eenvoudig: Ons is ná Piet Kopbeen se aankondiging
klaskamers toe, waar ons op woordsomme en Garibaldi en Cavour se
stryd vir die unifikasie van Italië probeer konsentreer het, terwyl
ons gewag het vir ’n stem oor die interkom om ons na Die Skoolsuster
te stuur.
Die
st. 6A’s is eerste geroep; eers die meisies, daarna die seuns,
apart.
Ek
was in 6B, saam ouens soos Eddie Scholtz, Boenas Engelbrecht, Ratel
Boshoff en Tienie Tol. Ons was ná die 6A’s aan die beurt.
Was
die meisies net so bang vir Die Skoolsuster soos ons seuns? Ek weet
nie. Ek wonder.
Ek
kan seker allerhande Freudiaanse verklarings probeer gee oor hoekom
ons seuns bang vir Die Skoolsuster was, maar dit sal niks verander
aan wat daardie dag gebeur het nie.
Eers moes ons ons klere in die kamerverlate uittrek, daarna het ons
in ’n ry voor die boekstoortjie aangetree, in alfabetiese volgorde,
net in ons onderbroek.
Ek
was negende van voor af, agter Eddie Scholtz. Tienie Tol, wat agter
my moes staan, was nie daar nie. Hy het in die kamerverlate gesit en
huil. Tienie-hulle was arm, en hy het nie ’n onderbroek aangehad
nie, en niemand wou hom een leen nie.
Eddie het boonop vir Tienie Tol gesê Die Skoolsuster gaan hom na die
verbeteringskool op Standerton stuur omdat hy omlope het.
Ek
wens ek het ’n foto gehad van ons klomp daar in die ry terwyl ons
wag vir Die Skoolsuster om ons in te roep, een vir een.
Dit
is nie maklik om te probeer onthou wat jy wil vergeet nie.
“Dink julle boys rêrig sy gaan dit doen?” Ek hoor nog die benoudheid
in Ratel, wat twee van voor in die ry was, se stem. “Dink julle sy
gaan dit doen?”
“Wat doen?” het Boenas gevra.
“
’n Liniaal hier voor tussen ons bene onder ons njellas vasdruk en
ons laat hoes.”
Die
liniaaltoets.
Eddie, wat ’n broer in matriek gehad het, het ons nie juis
gerusgestel nie. “Ons gaan hoes, pappa. Ons gaan hoes,” het hy gesê.
“En as daai twee njellas van jou nie van die liniaal af lig nie, het
jy trouble. My broer sê Die Skoolsuster stuur jou reguit hospitaal
toe, dan sit hulle jou in traksie vir drie maande.”
“Genuine?” Ratel het sy Jockey Junior ’n aks hoër tussen sy boude
opgewikkel.
Die
meeste van ons het ’n Jockey Junior aangehad – van daardie sakkerige
bontes, met die ingewikkelde gulpding hier voor.
En
toe swaai die boekstoor se deur oop, en daar staan sy, in ’n wit
uniform, met ’n Tisco-horlosie aan ’n kettinkie op haar bors en ’n
klaslys in die hand, en sy roep: “Alberts, Nicolaas!” terwyl ons
hande byna instinktief afskiet na die voorkant van ons Jockey
Junior.
Niekie Alberts moes eerste ingaan. Die deur was skaars toe, toe sê
Ratel: “Het julle ge-check, boys? Sy lyk soos Sybil Coetzee.”
Dit
was ongelukkig waar: Die Skoolsuster was nogal mooi. Sy het ’n
bietjie na die aktrise Sybil Coetzee gelyk. Wil jy die liniaaltoets
druip as iemand wat soos Sybil Coetzee lyk, jou toets?
Daar was ’n bykomende probleem: Ratel het by my kom staan, met sy
hande soos ’n skild hier onder. Hy moes volgende in sy Jockey Junior
voor Die Skoolsuster verskyn. “Wil jy nie ruil nie, hê?” het hy
gevra. “Wil jy nie voor my ingaan nie? Ek wil eers nog wag.”
Toe
ek afkyk na die voorkant van Ratel se Jockey Junior, het ek besef
hoekom Ratel eers nog wou wag.
Dit
klink dalk als alte snaaks, maar dit was nie snaaks nie – nie tóé
nie. Jy is veertien jaar oud, demmit. Jy staan daar in jou Jockey
Junior, vol testosteroon, terwyl ’n mooi vrou ’n liniaal van die
Transvaalse onderwysdepartement tussen jou bene indruk.
Ek
loop nou nie daarmee te koop nie, maar ek is dankbaar om te kan sê
ek is nooit as kind gemolesteer of mishandel nie.
Die
Skoolsuster het my wel eenkeer ondersoek.
|