|
'Little Miss Personality'
Dana Snyman - Mei 05 2008
CHANTÉ-LIZE van Lieb en Zantie het onlangs mos aan die Little Miss
RSA-kompetisie by Sun City deelgeneem. En sy het goed gevaar. Sy is
as Little Miss Personality aangewys.
Die
meisietjie wat as Little Miss RSA gekroon is, sê Lieb, kom van Parys
af – Parys in die Vrystaat.
Ek
het hom anderaand in die kroeg raakgeloop, vir Lieb. Dit was al
laterig en hy was spraaksamer as gewoonlik. Lieb is eintlik mos maar
’n stil ou. Zantie, sy vrou, is die een met die baie woorde. Dit
weet ons almal.
Die
Little Miss RSA-kompetisie, sê Lieb, is ’n groot ding, baie groter
as wat ons besef, al skryf die koerante nie juis daaroor nie.
Meisies tussen tien en twaalf kan deelneem, en hulle kom van oral
af: Kaapstad, Pretoria, PE, Sasolburg, Polokwane. Daar was selfs
enetjie van Rawsonville af.
En
dan was daar die een van Parys wat gewen het, natuurlik.
Lieb sê Zantie sê die kind – die een van Parys – moes nooit gewen
het nie, want sy is glo reeds dertien, en sy het eye shadow
aangehad. Die kinders mag glo grimering gebruik, maar nie eye shadow
nie.
Maar, ag, sê Lieb, hy gee nie werklik om nie. Dis vir hom lekker om
te weet sy kind is Little Miss Personality, want is dit nie wat op
die ou end saakmaak nie: jou persoonlikheid, jou binneste?
Buitendien, Chanté-Lize, wat nou tien is, het al ’n klomp ander
skoonheids?titels gewen. Sy was al Little Miss Foschini, Little Miss
Jakaranda Mall en Little Miss Valentine. Sy was ook eerste prinses
in die Little Miss Krugersdorp-kompetisie. En eintlik moes sy gewen
het, want die enetjie wat as Little Miss Krugersdorp aangewys is, is
van Soweto af en is gekies omdat sy swart is.
LIEB sê Zantie sê dis goed vir die kinders se selfvertroue om aan
sulke kompetisies deel te neem. En dit mag dalk so wees, sê Lieb.
Dit
is net vrek duur om ’n mooi kind te hê, sê hy. Die Little Miss
RSA-kompetisie kos hom baie geld. Dis R5 000 net om in te skryf. En
dan moet jy minstens twee nagte by Sun City slaap en eet terwyl die
beoordeling gedoen word.
Hy
moes ook betaal vir ’n haarkapper met die naam van Mervin se verblyf,
kos en dienste, sê Lieb.
En
dan is daar nog die kind se uitrustings. En die foto’s. En die DVD
wat gemaak is.
En
die modelkursus vooraf. En die dramaklasse. En die sanglesse.
Lieb sê Zantie sê Chanté-Lize is mooi en aantreklik genoeg om dit
eendag baie ver as sanger te bring. Hy sê Zantie sê jy kan deesdae
vergeet om ’n sanger te word as jy nie mooi is nie.
Die
beoordeling vir Little Miss RSA was geweldig streng, sê Lieb. Daar
was ses beoordelaars. Hy ken hulle nie, hy weet net een het al in
Egoli gespeel en ’n ander een is daardie baie, baie bekende Idol, hy
kan nie sy naam nou onthou nie.
Hulle het ’n onderhoud met elke kind gevoer, sê Lieb. Baie
professioneel.
Hy
het die meisietjie van Rawsonville net jammer gekry, want terwyl hy
en Zantie en Chanté-Lize saam met die ander daar buite die Sun
City-saal wag om geroep te word vir die onderhoud, toe spring die
enetjie van Rawsonville op en gaan drink water by ’n kraan daar
naby.
Toe
sien een van die beoordelaars haar en sê vir die kind se ma:
“Jammer, mevrou, dit spyt my ons sal punte moet aftrek. ’n Little
Miss RSA kan nie water by ’n kraan drink nie. It’s not lady-like,
I’m afraid.”
Die
kind van Rawsonville se ma het glo vreeslik gehuil en die pa het
gedreig om die beoordelaars hof toe te sleep. Die pa het ook glo vir
die Idol – ai, wat is sy naam tog nou weer? – geskree: “Moenie met
jou Idols-maniertjies by my kom nie. Ek’s nie Deon Maas nie; ek’s
van Rawsonville af. Ek bliksem.”
LIEB sê Zantie het hom dadelik gestuur om vir hulle Valpré-water te
gaan koop.
Lieb sê Zantie was so op haar senuwees voor Chanté-Lize se
onderhoud, sy het skelm in die toilet gaan rook. Sy was bang as sy
buite die saal rook, trek hulle ook punte by Chanté-Lize af.
Maar op die ou end het Chanté-Lize die beoordelaars so ge-charm dat
sy as Little Miss Personality gekies is.
Hy
weet nie hoe kry die kind dit reg nie, sê Lieb. Die beoordelaars sit
in ’n ry by ’n lang tafel voor in die saal, toe moes sy alleen voor
hulle gaan staan en haarself voorstel: “Hi, ek’s Chanté-Lize
Liebenberg van die Kaap en ek is tien jaar oud. Ek hou van swem,
dans, TV-kyk, MXit, swiets en mans.”
Die
beoordelaars het lekker daarvoor gelag, sê Lieb.
Die
volgende aand was dit die kroningsplegtigheid in Sun City se
Superbowl. Die seremoniemeester was ook al op TV, sê Lieb. Maar hy
kan ook haar naam nie nou onthou nie. Sy het lang bene.
Lieb sê Zantie sê Chanté-Lize kan aanstaande jaar beslis Little Miss
RSA word, want dan gaan sy al baie meer volwasse wees as nou.
LIEB het nou die aand baie dinge vir ons in die kroeg gesê wat
Zantie sê.
Hy
het later, ná nog ’n dubbel, ook dinge begin sê wat hy sê. Ek gaan
dit nie herhaal nie.
Ek
gaan nie vertel wat Lieb oor die haarkapper met die naam Mervin sê
nie, en oor Valpré-water, en oor die baie, baie bekende Idol wie se
naam hy nie kan onthou nie.
Ek gaan ook nie
vertel wat Lieb vertel het wat Chanté-Lize geantwoord het toe die
beoordelaars haar gevra het of sy haar ouers lief het nie.
  
Moms
& Tots Workshop
|