Listing your business at Kemptalk.com costs only R480 per year!

Index:      A      B      C      D      E      F      G      H      I      J      K      L      M      N      O      P      Q      R      S      T      U      V      W      Y


Directory

PLACES TO GO

Irene Village Market

Potholes / Slaggate

   Is dit nie 'n absoluut ongelooflike tyd waarin ons lewe nie? Veral as 'n mens luister na die toesprake en uitlatings van leiers en ander hooggeplaastes. Dit gee 'n mens sommer weer nuwe moed. Dit laat my net meer en meer besef hoe verkeerd ons in die verlede gedink het.

   Soos nou die dag. Ek en my vriend, Piet, sit langs die pad in sy kar en wag dat die insleepdiens moet opdaag. Ons het hulle gebel nadat die kar se voorste suspensie flenters gebreek het toe ons 'n diep gat in die pad getref het.

   Ek moet met skaamte bely dat ek en Piet vreeslike negatiewe goed kwytgeraak het oor die instansies wat vir ons land se paaie verantwoordelik is. Wat Piet gesê het, kan nie hier herhaal word nie.

   Piet sit toe die draadloos aan. En soos die voorsienigheid dit wou hê, kom die sterk, gevoelvolle stem van die Minister van Paaie, Mnr. Pothole Slaggathe, oor die lug.

   Ons het met oop monde geluister na die wonderlike boodskap van hoop en miskenning wat die man gebring het. En sy uitmuntende kennis van die feite!

   Onder andere dat Suid-Afrika oor die afgelope twaalf jaar ongeveer 'n kwart van sy begaanbare paaie verloor het. Hy het selfs genoem hoeveel duisende kilometer se paaie dit is. Ons was verstom. Die man het werklik geweet waarvan hy praat. Piet het in 'n ander taal begin praat.

   Ons het ons regtig geskaam oordat ons so negatief was. Want hy het dit baie duidelik gestel dat hy en sy departement ten volle bewus was van die probleem.

   Dit was vir ons waarlik 'n riem onder die hart om te verneem dat sy hart uitgaan na die families wat geliefdes verloor het as direkte gevolg van die slegte paaie. Jy kon ook duidelik hoor dat hy baie ontsteld is oor die miljoene rande se skade wat daar reeds aan duisende voertuie op die vrot paaie aangerig is. Dit het geklink of Piet iets sê van dagvaar die hele donse lot.

  
Jy kan nie dink hoeveel moed ons geskep het toe hy ons verseker dat sy departement dringende aandag aan die probleem skenk nie.

   Hy was so ernstig daaroor dat hy die volgende week reeds op pad sou wees Monte Carlo toe om te gaan navorsing doen oor die paaie-situasie. En dis nie net leë beloftes nie. Hy het reeds 'n kontrak van tien miljoen rand gesluit met 'n BEE-maatskappy om "Potholes Slaggate" borde op honderde strategiese plekke op die land se paaie op te rig. Dis nou 'n man met visie! Piet sê: "Tipies!"

   Toe sit ek en Piet woordeloos na die vaal verlate veld en kyk.

   Met die kar se voor-as in die sand en die belangrike afspraak in sy maai probeer ons ons ontstelde gemoedere paai met die versekering: Daar is geen rede tot kommer nie. Die situasie is ten volle onder beheer.

   "Nou't ek 'n dop nodig," sê Piet.

-- Johan Blignaut