|
Potholes /
Slaggate
Is dit nie 'n absoluut
ongelooflike tyd waarin ons lewe nie? Veral as 'n mens luister na
die toesprake en uitlatings van leiers en ander hooggeplaastes. Dit
gee 'n mens sommer weer nuwe moed. Dit laat my net meer en meer
besef hoe verkeerd ons in die verlede gedink het.
Soos nou die dag. Ek en my vriend, Piet, sit langs die pad in sy
kar en wag dat die insleepdiens moet opdaag. Ons het hulle gebel
nadat die kar se voorste suspensie flenters gebreek het toe ons 'n
diep gat in die pad getref het.
Ek moet met skaamte bely dat ek en Piet vreeslike negatiewe goed
kwytgeraak het oor die instansies wat vir ons land se paaie
verantwoordelik is. Wat Piet gesê het, kan nie hier herhaal word
nie.
Piet sit toe die draadloos aan. En soos die voorsienigheid dit wou
hê, kom die sterk, gevoelvolle stem van die Minister van Paaie, Mnr.
Pothole Slaggathe, oor die lug.
Ons het met oop monde geluister na die wonderlike boodskap van hoop
en miskenning wat die man gebring het. En sy uitmuntende kennis van
die feite!
Onder andere dat Suid-Afrika oor die afgelope twaalf jaar ongeveer
'n kwart van sy begaanbare paaie verloor het. Hy het selfs genoem
hoeveel duisende kilometer se paaie dit is. Ons was verstom. Die man
het werklik geweet waarvan hy praat. Piet het in 'n ander taal begin
praat.
Ons het ons regtig geskaam oordat ons so negatief was. Want hy het
dit baie duidelik gestel dat hy en sy departement ten volle bewus
was van die probleem.
Dit was vir ons waarlik 'n riem onder die hart om te verneem dat sy
hart uitgaan na die families wat geliefdes verloor het as direkte
gevolg van die slegte paaie. Jy kon ook duidelik hoor dat hy baie
ontsteld is oor die miljoene rande se skade wat daar reeds aan
duisende voertuie op die vrot paaie aangerig is. Dit het geklink of
Piet iets sê van dagvaar die hele donse lot.
Jy kan nie
dink hoeveel moed ons geskep het toe hy ons verseker dat sy
departement dringende aandag aan die probleem skenk nie.
Hy was so ernstig daaroor dat hy die volgende week reeds op pad sou
wees Monte Carlo toe om te gaan navorsing doen oor die
paaie-situasie. En dis nie net leë beloftes nie. Hy het reeds 'n
kontrak van tien miljoen rand gesluit met 'n BEE-maatskappy om
"Potholes Slaggate" borde op honderde strategiese plekke op die land
se paaie op te rig. Dis nou 'n man met visie! Piet sê: "Tipies!"
Toe sit ek en Piet woordeloos na die vaal verlate veld en kyk.
Met die kar se voor-as in die sand en die belangrike afspraak in sy
maai probeer ons ons ontstelde gemoedere paai met die versekering:
Daar is geen rede tot kommer nie. Die situasie is ten volle onder
beheer.
"Nou't ek 'n dop nodig," sê Piet.
-- Johan Blignaut
|