|
Sê wie?
Dana Snyman -
Apr 07 2008
Hallo? Is ek nou by
die radio? By RSG? By
Sê Wie?
Kan
ek met Niekie van den Berg praat, ’seblief?
O,
hallo, Niekie. ’Skuus, man. Ek dog eers dis iemand anders. Dis
Anoniem hier – Anoniem van Volksrust. Maskas, ’n mens sukkel darem
om deur te kom na jou toe.
Man, ou Niekie, ek sit nou hier en luister hoe praat julle oor die
misdaad en die dinge, toe dog ek ek bel ook maar.
Die
probleem is hier is nie meer respek vir lewe in hierdie land nie, ou
Niekie – geen respek vir lewe nie. Dis hoekom dit so hier gaan. Dis
hoekom. Hulle skiet jou dood vir ’n selfoon.
’n
Mens se lewe is niks meer werd nie. Nou probeer die regering ons
boonop ontwapen. Kom ek sê jou: Hierdie nuwe wapenwet is als ’n
poging om ons te ontwapen. Hulle wil ons wapens hê.
Ek
hoor jy gaan een van die dae selfs ’n liksens vir ’n windbuks moet
hê.
Jirder, ou Niekie, ek en jy het met windbukse grootgeword, man. Jy’s
sommer nog so ’n kannetjie, dan gee jou pa vir jou vyf koeëltjies;
en vir elke dooie muisvoël of mossie wat jy vir hom bring, gee hy
jou nog vyf koeëls. Onthou jy?
Nee, ou maat, ek sal nie my wapens laat vat nie, want kom ek sê jou
– kom ek sê jou nou hier vandag: As hy in die aand by my huis inkom,
skiet ek hom. Vrek. Of ek sit my twee rottweilers op hom.
Oe,
ou Niekie, ek is so lief vir daai twee honde van my. Hulle is soos
my kinders, daai twee honde. Hulle sal niemand by my en my familie
toelaat nie.
Hulle praat so van menseregte, maar waar’s my menseregte, ou Niekie?
Maar dis die jonges. Dis die jonges. Dis hulle wat so loop en moor
en roof en verkrag.
Ek
praat met hierdie een wat in my kombuis werk.
Sy
sê vir my: “Baas, die kinders luister nie meer vir ons nie, hulle
maak sos hulle wil.”
Daar is nie meer dissipline nie, ou Niekie. Daar is nie meer trots
nie.
Dis
hoekom: My kinders gaan nie hier bly nie. My seun sit klaar in
Londen – al vir agttien maande. Hy werk in ’n hotel daar. Hy sê vir
my: “Pa, hier in Londen hoef jy oor niks te worry nie. Als is hier.
Als werk.”
Maar dis Afrika, ou Niekie. Almal hier wil net hê, hê, hê.
Hoe
sing ons? Ons sal offer wat jy vra, ons vir jou, Suid-Afrika. Maar
niemand wil dit meer doen nie, ou maat. Niemand wil meer opoffer
nie.
Kyk
net wat gebeur met Afrikaans op die oomblik. Hulle is besig om hom
uit die skole uit te werk. Daarom het ek my dogter in ’n Engelse
skool gesit. Ek laat haar liewer nou in Engels leer, lat sy darem ’n
toekoms het, want hulle is besig om met ons te maak wat die Engelse
met ons in die Boere-oorlog gemaak het. Hulle wil ons weg hê.
Hel, ou Niekie, onthou jy nog hoe het ons soggens deur die ryp skool
toe gestap, kaalvoet, net in jou ou kortbroekie en jou ou hempie,
met jou ou tassie? En dan is daai voete van jou ge-ys, man. Dan loop
druk jy hulle in ’n nat bol beesmis daar in die koeikamp langs die
skool, net om jou tone weer warm te kry.
Ek
het my eerste langbroek eers in standerd 8 gekry. Ek het nie van
ice-creams e n sulke goed geweet nie. Vakansies het ek op die plaas
gewerk. Ons was arm.
Hierdie kinders van vandag ken dit nie meer nie. Nee, jong, dit
bedel net. Jy kan nêrens meer uit jou kar klim nie, dan staan daar
’n vuil kind: “Two rand, Master, please. Two rand. I’m hungry.”
Maar dis die regering se skuld, ou Niekie. Hulle skep nie vir die
mense werk nie.
Ek
klim laas week uit my bakkie hier by Pick n Pay, en toe’s daar weer
een van hierdie karwagte, hierdie car guards. Hel, die ou is
gehawend, man. Hy’s maer en hy’t nog ’n kruk ook, want die een voet
is kruppel. En hy noem my “oom”. Hulle oom jou mos almal, al is
hulle ouer as jy.
“Kan’k ’n ogie oor oom se kar hou?” vra hy. “ ’Seblief, oom?”
Jirder, ou Niekie, my maat, maar waar verloor ek dit.
Ek
sê vir hom: Kyk hier, vriend, ek betaal meer as R1 000 versekering
per maand op hierdie kar. Ek het ’n Tracker-system laat install. Ek
het ’n gear lock , ’n immobiliser en ’n literkan vol flippen pepper
spray onder die seat ; en hier kom jy, en jy vra: Kan ek ’n ogie oor
die kar hou? ’n Satelliet hou hierdie kar uit die buitenste ruim dop,
vriend. Helikopters gaan opstyg wanneer hulle hom steel.
En
jy wil ’n ogie oor hom hou. Wat gaan jy in elk geval maak as hier ’n
dief met ’n AK 47 kom? Gaan jy hom met jou kruk slaat? Huh?
Ai,
ou Niekie, en toe gaan die ou se onderlip aan die bewe. Dit lyk of
hy wil huil. Hy druk sy ou vuil hand by sy ou vuil hempsak in en hy
haal iets uit – ’n traktaatjie.
Hy
hou die traktaatjie na my toe, en hy vra: “Is oom ’n Christen, oom?”
Kan
jy dit glo, ou Niekie. Kan jy glo hierdie ou vra vir my of ek ’n
Christen is?
Natuurlik is ek ’n Christen.
Hallo? Hallo? Niekie, is jy nog daar. Hallo?
Niekie, praat met my! Niekie! Niekie!
|