|
Maar die hart klop mos anderkant
taal
Dana Snyman -
Des 20 2007
Toe
klap die Engelse vrou wraggies vir oom Drikus. Kwa! Oor die wang lat
die rooi haal daar sit. En eintlik wou oom Drikus net vir haar sê sy
moet haar kant skoon hou.
Ek
was nie by nie. Neels het my net anderdag die storie in die
Paternoster-hotel se kroeg vertel. Dis ook waar die Engelse vrou vir
oom Drikus geklap het: in daardie klein, hoekige kroegie, met al die
goed teen die dak en mure: pette, hemde, ’n enkele rugbytok, ’n kruk,
ensovoorts, ensovoorts – en ook, wel, vrouebroekies.
Oom
Johan Carosini, die hotel se eienaar, vra glo sommer vir die couples
wat daar kom honeymoon, hou vir my die broekies.
Nietemin. Hulle sit een aand in die kroeg, vertel Neels. Hier storm
’n vrou in. Hare deurmekaar. Gesig vol maskara-sleepsels. Dis
duidelik sy het gehuil.
Sy
kyk so, die vrou, en loop sak langs oom Drikus neer, met haar
sigarette en goue lighter.
Hy
dink, sê Neels, oom Drikus het vir haar die veiligste gelyk, want
dit was ook al laat en hulle sit nie stil nie. In die
Paternoster-hotel se kroeg sit jy nie maklik stil nie.
Die
vrou, die een met die maskara en die trane wat langs oom Drikus loop
sit het, bestel toe ’n Gin & Tonic. Gee and Tee. Single. With lots
of ice and a slice of lemon, please.
Hulle kon sommer dadelik sien, sê Neels, die vrou is swaar Engels –
boonop swaar Engels van die Kaap af, een van daai wat met die Mini
Coopers ry en wie se donkerbril altyd op die voorkop rus. Nie die
soort wat oom Johan sou vra vir haar broekie nie.
Jy
kan sulke goed sommer sien, sê Neels. Jy weet net. Maar die hart
klop mos maar anderkant taal. Nie lank nie, toe begin die Engelse
vrou met oom Drikus praat. In Engels, natuurlik.
En
oom Drikus sit maar daar en luister na haar in Afrikaans – sy beste
Afrikaans, want die vrou is mooi. Hul Engels is mos maar benard op
die Weskus, sê Neels. Eintlik gebruik hulle Engels net as
selfverdediging.
Nietemin. Die Engelse vrou ryg die bitter woorde uit en oom Drikus
luister. Of nee, die hele kroeg, almal, luister, sê Neels. Hy wat
Neels is. Oom Johan, oom Bennie, Rooies – die gewone klomp. So
ongemerk as moontlik luister hulle, want hulle sit nie stil nie.
Die
Engelse vrou se storie was maar die ou-ou storie. Liefde. Love. Meer
spesifiek: Liefde wat skeef draai.
Het
jy al ’n Penn 49-viskatrol gesien wat ’n kraaines kry, vra Neels.
Ja,
sê ek.
Nou,
ja, sê hy. Sulke liefde.
Maar oom Drikus is ordentlik en vaderlik en hy luister na die
Engelse vrou. Sy en die boyfriend het glo van die Kaap af
Paternoster toe gekom om aan die verhouding te werk.
Maar toe gaan hulle weer aan die twis. Nou stap die boyfriend op
die strand rond en skop na skulpe en sy sit in die kroeg en uitpak
oor guilt feelings en emotional hijacking en not in touch with his
feminine side. Vreeslik.
Maar oom Drikus luister, sê Neels. Hy luister na haar.
En,
ja, oom Drikus is ’n wyse man, sê Neels, want nadat hy mooi na die
vrou geluister het, toe gee hy haar raad – goeie-goeie raad. In sy
beste Engels.
Lady, all I can say to you is, sê oom Drikus toe vir haar, just keep
jou kant clean.
|